Beeld LEEFSTYL Smulpaap deur die Klein-Karoo

Hier volg n uitreksel van die artikel geskryf deur Maryke Roberts wat op 30 June 2018 in Leefstyl Beeld gepubliseer was.

Langnaweke is vir ontgin en waar beter as die Klein-Karoo, veral as dit om Roete 62 kan gebeur. As jy jouself dié winterskoolvakansie in die Kaap bevind, gaan maak gerus ’n smulpaap-draai in dié geweste.

Die Joubert-Tradauw Alfresco Deli, nog ’n wenner onder die plaas-eetplekke, is ’n heeldagkuierplek. Ons doen eers die wynproe in die horingoue wynproelokaal, wat blykbaar die voormanhuis van die destydse De Villiers-familie was, voordat ons omstap na die deli.

n Vuurtjie brand in die kaggel en die Italiaanse en Franse musiek wat deur die restaurant dartel, laat voel jou of jy iewers op ’n Mediterreense plaas sit. Ons bestel Beate Joubert se R62 Platter met sy varsgebakte brode, patees, geroosterde groente, tapenade, hoemoes, spanakopita en volstruisvleis met vele
geure en kinkels by.

Meyer Joubert, eienaar en wynmaker, kom gesels ’n bietjie oor wynmaak en skink vir ons sy R62-versnit, maar kort-kort wil iemand iets vra oor sy bekroonde
wyn en hy moet gaan geselsies maak.

“Hierdie is ’n baie lekker plaas; daar is altyd iewers drama!” vertel hy, maar lag tog te lekker oor die kamma-dilemma.

Hy en Beate is mens-mense en almal korswel en wil ’n bietjie langer by hulle vertoef. Hy sê die R62 is sy crowd pleaser, maar die wyn se kompleksiteit
maak dit ideaal vir veroudering. Die wynetikette is skoon, gestroop van oordaad, maar daar is geen tekort aan simboliek nie. Dit verwys na die R62-roete wat internasionaal bekend is, maar die unfiltered verwys nie net na die wyn nie, maar ook na Suid- Afrika se unieke bevolking, verduidelik
hy.

“Ek maak graag liniêre wyne. Ons skaliegrond, later oestyd, warm dae en kouer nagte veroorsaak stadige rypwording en dis duidelik in ons wyn te proe,” vertel Meyer.

Ons is in vervoering oor die vars groente en kruie in Beate se tuin en sy gee ons sommer twee reuse-eiervrugte saam huis toe. Ons is lui toe ons wegry daar, maar dis nie net ons mae wat vol is nie, ons harte is ook gevul met die gulheid van die paartjie.

Beeld Leefstyl artikel 2018
Kliek hier vir die volledige artikel
2018-09-04T16:10:40+00:00September 3rd, 2018|In the Media|